"Sy is myne...jy kan gaan maar Jasmine bly net hierso." Die vasbelsotenheid in haar pa se stem gaan Eva nie verby nie.
"Daddy, ek kan mos nie dit doen..." begin sy teepraat, sy is na aan trane maar sy sal moet probeer om hom te laat verstaan hy vra die onmoontlike nou, dis malligheid.
Haar pa onderbreek haar onbeskof, die satyn handskoen is af, hy is `n vuurvreter reg om te verteer wat in sy pad staan.
"Kyk hier Eva, laat ek en jy nou mekaar mooi verstaan, en maak oop daai ore sodat jy mooi kan hoor"...hy vat twee tree nader aan haar, dreigend gluur hy haar aan, sy voel sy warm asem op haar gesig ..."Die kind gaan nerens saam met jou nie, jy wil mos nou na Sodom en Gomorra gaan, asb laat ons jou nie ophou nie, vat jou goed en laat jy waai, maar los my kind net hier. Wat dink jy beteken dit om `n kind groot te maak huh, het jy enige benul wat dit behels?" Hy wag nie vir `n antwoord nie, maar antwoord self sy vraag.
"Dit vat opoffering meisiekind, opoffering, `n woord wat jy nie verstaan nie. Jy is te selfsugtig om dit te kan verstaan. Watse huis sal jy vir die kind kan bied, kom se my gou...?"Hy wag weereens nie vir `n antwoord nie, maar gluur haar woedend aan. Haar pa is nou op volle stoom, daar is geen keer aan die wilde hings nie, hy is op sy perdtjie en behoed en bewaar die persoon wat hom nou in die rede val. Eva se trane dreig dreig om te val, maar sy sluk die groot golfballe in haar keel, vandag is daar geen tyd vir trane nie, sy sal moet sterk wees, sy moet hom laat insien, sy sal net moet...
"`n Kind nodig `n huis Eva, `n huis wat `n pa en ma het, waar daar kos op die tafel is, waar daar standvastigheid is, kan jy dit vir Jasmine gee, kom se my nou, kan jy nou eerlikwaar hier staan en my laat verstaan dat jy vir Jasmine `n huis kan gee, `n toekoms...my magtiegie man, jy het geen idee wat dit kos om `n kind groot te maak nie." Haar pa snork verontwaardig, hy stap terug na sy sitplek, sak terug in sy stoel, net om weer op te staan en haar stip aan te kyk.
"Kom, ek gaan dit maklik maak vir jou Eva, ek gaan dit sommer baie maklik maak vir jou...ons nodig niks van jou nie, niks, jy het geen verantwoordelikheid teenoor Jasmine nie. Beskou haar as afgehandel, `n blaps wat jy begaan het, en nou kan jy weer die stukke van jou lewe, of wat nog daarvan oor is, bymekaar lap...ek en jou ma gee jou `n kans om weer oor te begin, asof die nooit gebeur het nie. Nie baie mense kry so `n kans nie, nie baie meisiekinders wat oor die tou getrap het kry die geleentheid om vry te wees nie...jy is gelukkig Eva, want ons gee jou nou daai geleentheid met `n ope hart, gaan en doen wat jy moet met jou lewe, gaan maak net soos jy lus het, ek gee rerig nie om wat jy doen nie, maar Jasmine is myne, sy het `n huis nou en sy het `n ma en pa, so as jy loop, loop jy alleen."
Dit word eens te veel vir Eva, al die sluk in die wereld kan die snukke wat volg nie keer nie. Golwe en golwe van seer, elke asem `n pynigende steek, haar binneste voel rou en oop, sy probeer praat maar daar is geen klank wat uit haar mond kan kom.Net droe snukke van iewers diep in haar binneste, haar liggaam rukkend,pleitend,stukkend, sy is besig om dood te gaan, kan hulle nie sien, sy gaan dit nie maak nie. Stop die pyn, asb stop die pyn, my liggaam is te klein vir soveel pyn, hoe kan sy dit weerstand...
Haar ma staan op van haar sitplek, en gooi haar arms om haar, haar oe nat van sag huil.
"Shs,shs...is OK Eva, is OK...shs, shs nou, alles gaan OK wees, shsss .." se haar ma sag. Haar stem bewerig en tog agter die sagte woorde soveel krag, soveel sekerheid, kan dit veilig wees om haar ma nou te glo?
Die snukke wil nie ophou nie, sy slaan haar vuis teen haar hart om te probeer wys, haar hart is besig om in te gee, sy probeer weer praat, maar dis asof haar stem gesteel is van haar. Hoe gaan sy hulle laat verstaan sy is besig om dood te gaan, fisies dood te gaan, haar hele liggaam is in spasmas, een pynende steek na die ander, haar keel heeltemal toegetrek, haar hart dood,koud,ongenaakbaar,dit weier om nuwe bloed deur haar are te stuur, haar binneste rou, asof wat binne is buite wys, `n trui aan die verkeerde kant. Help tog iemand, help my, die pyn is ondraagbaar.