Die vredemakers

Posted by: Sela in Untagged  on Print PDF

Sela
 

Ek is oortuig daarvan ons jeug is die vredemakers van môre. Daar kom ‘n dag dat jy iets hoor of lees wat jou tussen die oë tref. Jou letterlik dwing om regop te sit.

Ek het onlangs een aand na werk geluister na "L'Incontro", ‘n gedig geskryf deur die tenor Andrea Bocelli, en voorgedra deur Bono van U2 faam.

Die slotverse tref my keer op keer: "But inside of me the kid's trapped soul advises me / That this new-born child is already more important to me / than that of my own life..."

Kindergesiggies flits verby my. Ashley Kriel, Hector Petersen, Bhongolethu Vokwana. Laasgenoemde leef. Later daaroor.

 

Die Amerikaners had vir Mattie Stepanek, ‘n bekroonde digter en tiener wat op die ouderdom van drie begin skryf het. Mattie is in 2004 oorlede. In sy roerende gedig, "About wishing", skryf hy:

"Some people think that / wishing is childish / But, wishing is for everybody."

En hy sluit af: "Wishing bring new ideas, and sometimes, / The touch of new life / And that is essential for our future."

Dit is nie slegs Stepanek wat hoop aan die mensdom gee nie. Suid-Afrikaners kan met Bhongolethu Vokwana spog. Hy het in 2005 aan die Northern Lights-skool vir serebraal gestremdes in Port Elizabeth gematrikuleer.

Vokwana, ‘n kwadrupleeg wat byna heeltemal verlam is en aan ‘n rystoel gekluister is, het met ‘n C-gemiddelde geslaag.

Volgens sy onderwyser het Vokwana ‘n kopstuk gebruik om te skryf. In plaas van die uur wat die ander kinders kry om ‘n vraestel te voltooi, het hy ses uur ekstra gekry. Soos Stepanek, he took hy die innerlike krag om bo sy fisieke gestremdheid uit te styg.

Sedertien dink ek altyd aan hom wanneer ons Jeugdag gevier word. Dan bekoor die plaaslike orakels ons met slagspreuke soos: "Die jeug is die toekoms", "lank lewe demokrasie", "ons is vry" en so meer.

Die bottom line is, ons moet ophou praat-praat en eerder doen-doen!

Die onderwysstelsel was onlangs in ‘n krisis. In die Oos-Kaap is dit landelike en arm skole wat die swaarste getref word deur ‘n gebrekkige infrastruktuur.

Kinders kry onderrig onder bome terwyl sommige op hul maag lê om die honger te vergeet.

Twee jaar gelede, toe stormreën die Baai looi, was ek op pad na ‘n poësieslypskool op Port Alfred. Nie eens die swaar reën kon ‘n groep van meer as honderd skoolkinders - sommige kaalvoet - weghou nie. Daar is hoop!

 

Baie onderwysers meen die onderwysdepartement gee nie genoeg erkenning aan onderwysers vir die aanvoorwerk wat hulle doen om by kinders ‘n liefde vir literatuur te kweek nie.

Die Burger het onlangs met ‘n paar jong mense in die Baai gesels oor wat hulle van ons land se veertien jaar oue demokrasie dink.

Die meeste was van mening dat hoewel die nuwe SA vir hulle die vryheid van keuse gee, hulle steeds deur misdaad onderdruk word.

 

Die potensiaal wat die klas van 1976 help skep het, word net nie verwesenlik nie.

Die bevrydingsbeweging staan weer eens voor nuwe uitdagings. Hulle moet die onderwys help bevry, en ons jeug uit die kloue van misdaad en dwelms verlos.

Kwessies wat in elk geval net tydens verkiesingsveldtogte aandag geniet.

Dalk het Bono ons land se brose demokrasie in gedagte gehad toe hy sê: "... this new-born child is already more important to me / than that of my own life..."

Kom ons gee gehoor aan ons leiers se pleidooie om in alle erns in ons jeug te belê. Húlle is die toekoms.


Comments (0)Add Comment

Write comment
You must be logged in to a comment. Please register if you do not have an account yet.

busy